Spanje verbreek diplomatieke verhouding

Spanje het sy diplomatieke betrekkinge met Vlaandere beëindig nadat die voorsitter van die Vlaamse parlement ’n skerp uitlating gemaak het oor die kwessie van Katalonië.

Volgens koerantberigte het die Spaanse minderheidsregering besluit om die voorregte van die Vlaamse verteenwoordigers in Spanje te beëindig, maar wel toegelaat dat hulle aanbly in Madrid, die hoofstad van Spanje.

Hoewel Jan Peumans glo meermale in die verlede kritiek gehad het oor die Spanjaarde se hantering van die Kataloniese krisis, is die jongste uitspraak glo vir die Spaanse Sosialiste onaanvaarbaar.

Tydens die opening van die Vlaamse Parlement wat gepaard gaan met ’n skouspelagtige vertoning, het die voorsitter die Spaanse regering vergelyk met die optrede van die regering van Bosnië gedurende die jare negentig.

Die Vlaamse minister-president, Geert Bourgeois, en die parlementêre voorsitter, Jan Peumans, wou geen kommentaar lewer op die gebeure nie, en wag waarskynlik op die amptelike kennisgewing wat Spanje moet uitreik.

Dit is bekend dat Vlaandere sedert die Kataloniese krisis nie gehuiwer het om te toon waar hulle lojaliteit is nie, en het met groot vrymoedigheid huisvesting verleen aan Carles Puigdmont en drie ander ministers wat moes padgee uit Katalonië om nie deur die Spaanse owerheid in hegtenis geneem te word nie.

Kenners wys daarop dat parlementêre voorsitters die reg het om sterk standpunte te opper, maar omdat die parlement verantwoordelik is vir amptelike standpunte, word die voorsitter se standpunt nie beskou as van groot belang nie.

Foto – Jan Peumans