Singapoer redery wil langste vlug instel

Die instel van ’n vlug tussen Singapoer en New York wat 19 uur sal duur, sal die langste vlug in die wêreld wees, en sal slegs bedoel wees vir diegene wat bereid is om ’n duur vliegkaartjie te koop.

Singapoer Lugredery is glo ook gereed om “gekroon” te word as die wêreld se redery wat die langste geen-stop vlug aan sy passasiers bied wanneer sy Vlug SQ22 vanaf New York vertrek.

Die reis van 16 700 kilometer wat net minder as 19 uur sal duur, terwyl daar nêrens gestop gaan word nie, sal ’n aansienlike bedrag meer kos vir die passasiers as die normale vlug wat veel langer duur en minstens een keer gestop word om brandstof in te neem.

Tans hou Qatar Lugredery die rekord met ’n vlug van net minder as 18 uur oor ’n afstand van bykans 15 000 kilometer vanaf Doha in die midde Ooste tot in Auckland.

Singapoer sal die langafstand Airbus A350-900ULR vir die roete gebruik aangesien Airbus se aanspraak is dat die vliegtuig in staat is om 20 uur in die lug te bly.

Die lang afstand vlug maak egter nie voorsiening vir die ekonomiese klas nie, en passasiers moet bereid wees om die sak te skud vir die geen-stop reis.