Reuse staking verlam Argentinië

Die konserwatiewe regering van president Mauricio Macri van Argentinië gaan gebuk onder ’n reuse staking van vakbondlede wat ontevrede is oor die ekonomiese beleid van die regering.

Die staking deur verskillende vakbonde se lede het die vervoer tot stilstand gedwing en die meeste lughawens se vlugte is gekanselleer.

Alhoewel die staking slegs vir 24 uur geduur het, was Argentinië Saterdag totaal en al verlam, en die moontlikheid van hernude stakings is nie uitgesluit nie.

Van die vakbonde het gesê hulle begin Maandag met nuwe reeks stakings en wil daarmee voortgaan tot ’n ooreenkoms met die regering bereik is oor nuwe ekonomiese rigtings.

Een van die grootste klagtes is die hoe persentasie van die inflasiekoers en die regering se onderhandelings met die Internasionale Monitêre Fonds (IMF) om ’n reuse lening aan te gaan.

Waarnemers sê die land hou asem op dat die regering nie verdere skuld aangaan en die $50 miljard grens te bowe gaan nie.

Foto – President Mauricio Macri