Ramaphosa weer van leuens beskuldig

Die stof rondom Cyril Ramaphosa se leuens in New York het nog nie gaan lê nie en sal hom waarskynlik dwarsdeur sy politieke loopbaan ten laste gelê word.

Die leier van die HNP, mnr. Andries Breytenbach, het ‘n striemende aanval op Ramaphosa gedoen. In ‘n verklaring sê hy Ramaphosa se stelling in die buiteland dat daar geen moorde op wit plaasboere in Suid-Afrika plaasvind nie en ook geen grondgrype (“land grabs”) nie, is so ‘n blatante leuen dat mens nouliks kan glo dat iemand in sy posisie so vermetel en onbeskaamd kan wees om in weerwil van al die feite op die grond en die getuienis daaroor in die plaaslike en internasionale media, sulke twak te praat en dan te verwag dat die internasionale gemeenskap hulle aan hom moet steur. “Hy wéét mos ander  lande het ambassadeurs en intelligensie-agente in Suid-Afrika wat hulle regerings inlig oor wat hier aangaan.”

Mnr. Breytenbach sê dit is nou die man wat wil hê die Veiligheidsraad van die VN moet hervorm (getransformeer) word om aan Afrika groter seggenskap en mag in dié liggaam te gee! “Met so ‘n demonstrasie van onverantwoordelikheid en ongeloofwaardigheid sidder ons vir die wêreld as daar aan sy pleidooi toegegee moet word.

“Ramaphosa se stelling het getoon hoe koud die moordveldtog teen die witmense in Suid-Afrika hom en sy regime laat, en dat hulle nog dieselfde gees van terrorisme in hulle omdra as waarmee hulle voor 1994 hulle veldtog van moord en terreur gevoer het. Hoe waar tog dat ‘n jakkals van haar verander, maar nie van snaar!”

Die een voordeel, volgens mnr. Breytenbach, is dat met elke sodanige optrede is daar gelukkig méér volksgenote wat tot die besef kom dat die kunsmatige saamboerdery van wit en swart in een staatsbestel ‘n onmoontlikheid is wat so gou moontlik beëindig moet word.