Motorrubriek – Mini Cooper S Steptronic

Sedert die vroegste jare was die Mini Cooper S ‘n baie gewilde motor, veral onder die jonger garde daar waar die “petrol vloei” in die are nog hoog is!

Die heel nuutste, opgekikkerde weergawe met die Steptronic ratkas beloof om bogenoemde voort te sit. Daar het verskeie veranderings aan die buitekant plaasgevind soos byvoorbeeld LED hoofgligte, ligte wat aan is terwyl die voertuig op die pad beweeg, nuut ontwerpte allooi wielnawe, bykomende verskillende kleure verf, die sierrooster is opgekikker ensovoorts. Bykomende afwerking wat aangevra kan word is “Malt Brown” afwerking en klavier swart buite strepe.

In die huidige prys ingesluit is lugversorging, ‘n kombinasie van leer en materiaal afwerking vir die sitplekke bykomende stoor geriewe.

Die ratkas wat gebruik word is die sewe-spoed Steptronic ratkas wat die vorige ses-spoed ratkas vervang en dit is gekoppel aan die 2 liter, vier silinder inlyn, kragbron met direkte elektroniese brandstof inspuiting, turbo aangejaagde petrol enjin met dubbel oorhoofse nokas met vier kleppe/silinder. Die krag wat voorsien word is 141 kW en die wringkrag is 280 Nm en dit is beskikbaar tussen 1250 en 4600 o.p.m. Wanneer daar na hierdie inligting gekyk word, besef ‘n mens hierdie is ‘n “moeilike” kalant wat jou maklik in die moeilikheid kan laat beland want volgens toetse uitgevoer is die motor instaat om van 0 tot 100 km/u te versnel in 7,01 sekondes en die die topsnelheid is 230 km/u.

Die buite afwerking is van hoogstaande gehalte en wanneer daar om die motor na die agterkant beweeg word, word die agterligte dadelik opgemerk want die Union Jack word daarop afgebeeld wat ‘n duidelike aanduiding is waar die motor se oorspronklike oorsprong vandaan is.

Op die oop pad kom die voertuig werklik tot sy reg. Dit is beweeglik, padhouvermoë is van hoogstaande gehalte en die ratkas is vinnig om die korrekte rat te kies wat geskakel moet word. Die oorskakeling vind seepglad plaas en dit is duidelik dat die ingenieurs van BMW deeglik huiswerk gedoen het. Die veerstelsel wat gebruik word is onafhanklike MacPherson stutte met spiraalvere op die voorwiele en agter word daar gebruik gemaak onafhanklik veerstelsel met spiraal vere.

ABS remme met EBD en EBA ondersteuning word ingespan om die voertuig tot stilstand te bring met 300mm geventileerde skywe voor en 280mm soliede skywe agter.

Die brandstofverbruik volgens die vervaardiger is 5,4 liter/100 km en die geskatte afstand wat bereik kan word met die brandstofhouer vol brandstof is ongeveer 670 km.

Hierdie is ‘n motor vir die “fynproewer” en dit kan gerus op u inkopielys geplaas word wanneer u so ‘n voertuig wil aanskaf.