Motorrubriek – Honda HR-V 1.8 Elegance

Deur die jare het Honda ‘n reputasie van betroubaarheid opgebou in die motor wêreld. Of dit op die renbane, of in tydrenne was of as ‘n gewone elke dag se voertuig, dit het bekendheid verwerf.

Die jongste toevoeging tot die Honda reeks is die HR-V en dit pas ewe netjies in tussen die BR-V en die CR-V modelle. Die Elegance is die luukse weergawe en daar is ‘n elle lang lys van toebehore wat gepas is teenoor die Comfort model. Daar bestaan dan ‘n prys verskil van meer as R50 000 tussen die twee.

Leer bekleedsel word gebruik vir die sitplekke en die voorste sitplekke word verhit, in plaas van die gewone vier luidsprekers vir die radio is daar ses gepas, outomatiese LED hoofligte is gepas met dagrit ligte wat verseker dat die motor duidelik sigbaar is. ‘n Outomatiese lugversorger sorg vir die gerief van die insittendes en tru parkeer sensors met ‘n kamera sorg dat daar met veiligheid geparkeer kan word. Die buite spieëls kan wegvou en die windskerm veërs skakel outomaties aan wanneer dit begin reën. Snelheidsbeheer sorg dat daar binne die wet op die paaie beweeg word.

Op die pad is hierdie voertuig ‘n juweel. Padgedrag is van hoogstaande gehalte en die 1.8 liter kragbron kwyt dit goed van sy taak. Wanneer daar teen ‘n opdraad gestop word is daar hulp beskikbaar om te verhoed dat die voertuig beweeg. Die wielnawe is van aantreklike allooi gebou en dit gee die buite aansig van die voertuig ‘n netjiese afwerking. Selfs die sierrooster, kolligte voorste stamper is onder hande geneem en die agterligte het nou ‘n “gerookte” afwerking. Die Honda is beskikbaar in sewe verskillende kleure waarvan die Brilliant Sporty Blue my persoonlike keuse is.

Die veiligheids aspek is nie agterweë gelaat nie en ABS remme met EBA en EBD hulp is gepas met skyfremme op al vier wiele. Binne in die voertuig is daar ses lugsakke, die nodige veiligheidsgordels en ‘n voertuig stabiliteits beheer fasiliteit is ingebou. Plek vir lang bene is nie ‘n probleem nie en met die nodige verstelling van die sitplekke kan ‘n gemaklike sit posisie ingeneem word. Om die nodige rygerief te verskaf word daar op die voorwiele gebruik gemaak van Mac Pherson stutte en agter ‘n wringstaaf met spiraalvere.

Die vensters word elektriesbeheer en so ook die elektries ondersteunde stuurstelsel en elektriesbeheerde handrem. Die vier silinder enjin is aan ‘n sewe spoed outomatiese ratkas gekoppel en die rat oorskakel vind plaas sonder dat dit eintlik opgemerk word.

Die bagasie ruimte is meer as voldoende en hierdie is dus die ideale voertuig vir ma om die kinders mee skooltoe te neem en dit is ook die ideale voertuig vir die natuurliefhebber want die uitsig na buite is onbelemmer.

Die brandstofhouer van die Elegance neem 50 liter en die grond vryhoogte is ongeveer 170 mm.

Indien u in die mark is vir ‘n sportnuts voertuig van hierdie gehalte, kan u gerus u naaste Honda handelaar gaan besoek en dit vir ‘n toetsrit neem.