Brandstof word onnodig nog duurder

Petrol sal met 99 sent per liter styg op Woensdag 3 Oktober terwyl diesel met R1,24 sal styg. Vloeibare gas se prys styg met R1,39 per kilogram.

Die buitengewoon hoë brandstofprys in Suid-Afrika is die gevolg van ʼn onbevoegde ANC-regering, is VF Plus se leier, dr. Pieter Groenewald, se mening, en hy skryf dit toe aan die buitensporige heffings wat die regering op brandstof plaas om die fiskus se koffers te vul om op te maak vir finansiële wanbestuur en korrupsie van die staat.

In Suid-Afrika se buurstaat Botswana is dieselfde brandstof aansienlik goedkoper omdat Botswana nie soveel heffings het as die Suid-Afrikaanse regering nie. Die Suid-Afrikaanse regering het ʼn finansiële krisis en die motoris word nou die melkkoei om op te maak vir hierdie finansiële verknorsing.

Om te skuil agter ʼn hoë olieprys en ‘n swak rand is volgens dr. Groenewald nie genoegsame verskoning vir die hoë brandstofprys nie en dit word gebruik as ʼn rookskerm om die regering se onbevoegdheid te verbloem.

“Wat die staat moet doen is om sy heffings te verminder sodat motoriste billik hanteer word en verbruikersbesteding  kan daal. Die VF Plus stel die volgende stappe voor:

  1. Skaf die Padongelukkefonds (POF) af.
  2. Maak derdepartyversekering verpligtend.
  3. Verminder brandstofbelasting (tans 38%).
  4. Bestee brandstofheffings slegs op die instandhouding en uitbreiding van paaie.