België gaan Google dagvaar

Die Belgiese minister van verdediging het die tegnologiese reus, Google, versoek om sy satelliet  beelde van sensitiewe militêre gebiede te verberg vir gewone kykers.

Dit volg kort nadat verskeie ander lande soortgelyke versoeke tot Google gerig het in die afgelope maande.

België het gewaarsku dat wetsoptrede gevolg sal word indien Google nie voldoen aan die versoek nie.

Die minister sê hy het Google versoek om die persele soos lugmagbasisse en kernkragsentrales en ander sensitiewe terreine wat van belang vir nasionale veiligheid is, te bedek teen opsporing.

Hy sê die ministerie sal nie huiwer om regstappe te neem teen Google nie aangesien dit in landsbelang is dat sulke persele nie op die Internet geïdentifiseer mag word nie.

Europese lande het die afgelope jaar verskeie kere swaarde gekruis met Google, en die Europese Unie het selfs gedreig om die Internet reus te blokkeer, en daarmee miljoene gebruikers sal afsny wat tans gebruik maak van die maatskappy se dienste.