Bedanking van Armenië premier verdag

Opposisielede het in reaksie op die premier se onverwagse bedanking gesê die optrede is uiters verdag en dui op ’n poging om meer mag in te palm.

Die eerste minister, Nikol Pashinyan, het in ’n TV onderhoud aangekondig dat hy gaan bedank en dat ’n nuwe verkiesing gehou sal word.

Die skielike bedanking, nadat die premier aan bewind gekom het in Mei vanjaar, lyk vir lede van die opposisie verdag, maar die premier sê “beter beheer” oor die parlement is nodig.

Hy het tydens die aankondiging gesê “my geliefde en trotse mense, ek het vandag besluit om te bedank” om ’n nuwe verkiesing te hou waarin die kiesers hulle vrye mening kan gee oor wie moet regeer.

Nikol Pashinyan (43) het in Mei aan bewind gekom na weke van anti-regering protes wat eers beëindig is toe sy voorganger, Serzh Sargsyan, sy bedanking ingedien het.

Die premier beywer hom daarvoor om hervorming deur te voer om ontslae te raak van die invloed wat die kommunisme op die land het wat vir dekades deur Rusland beheer is.

Foto – Premier Nikol Pashinyan