Wêreld Nuusflitse – 5 September

Brasilië

’n Brand het Brasilië se Nasionale Museum in Rio de Janeiro wat in ’n 200 jaar oue gebou is, totaal vernietig met al die kosbare stukke daarbinne.

 

Myanmar

Die owerheid in Myanmar het twee joernaliste van Reuters in hegtenis geneem en elk sewe jaar tronkstraf opgelê omdat hulle na bewering onwettige ondersoeke gedoen het, maar die VN eis dat die twee onverwyld losgelaat word.

 

Sjina

Die Sjinese owerheid het ’n Australiese radiostasie se uitsendings begin blokkeer wat in Sjina deur derduisende inwoners geluister word, maar die owerheid weier om sy redes vir die optrede bekend te maak.

 

Duitsland

’n Swerm woedende perdebye het ’n feestelike wyn byeenkoms ontwrig toe hulle op talle feesgangers toegesak het en minstens 18 mense is sodanig beseer dat hulle in ’n nabygeleë hospitaal behandeling moes kry.

 

Egipte

In Egipte is ’n klein dorpie gevind wat ook as ’n begraafplaas beskou kan word omdat die wetenskaplikes onseker is, maar wat sowat 5 000 jaar gelede aktief in gebruik was.

 

Duitsland

Geen bewyse kon tydens ’n intensiewe ondersoek gevind word dat die Duitse vervaardiger Volkswagen gekul het met gegewens van sy verskillende petrol aangedrewe modelle nie.