VSA verkoop wapentuig aan Taiwan

Taiwan is gereed om onderdele ter waarde van miljoene dollar vir sy vegvliegtuie aan te skaf van Amerika, wat die spanning tussen die VSA en Sjina verder gaan verhoog.

Die Amerikaanse president, Donald Trump, het goedgekeur dat die militêre transaksie met Taiwan, wat $330 miljoen beloop, deurgevoer word.

Die onderdele, wat vir vliegtuie bedoel is, sluit ook in m reeks onderdele vir F-16 vegvliegtuie en C-130  vragvliegtuie.

Die Pentagon het sy optrede verdedig en gesê die transaksie sal ’n bydrae lewer wat die buitelandse beleid en nasionale veiligheid van die VSA verbeter.

Die transaksie is egter onderhewig aan die besluit van die Amerikaanse Kongres wat 30 dae tyd het om ’n finale beslissing te maak.

’n Pentagon woordvoerder sê hulle glo dat Taiwan ’n belangrike mag is wat politieke, militêre en ekonomiese stabiliteit verseker in die streek.

Taiwan se militêre slaankrag bestaan hoofsaaklik uit toerusting wat vanaf Amerika afkomstig is, en het ook versoek dat die VSA nuwe tegnologies gevorderde toerusting en vegvliegtuie moet voorsien.

Sjina eis Taiwan op as deel van sy eiendom, en alhoewel Taiwan oor homself regeer, hou Sjina ’n wakende oog oor die land se buitelandse optrede.