VSA stuur troepe na Europa

Terwyl die hele Europa bekommerd is oor hoe hulle Navo sterk genoeg sal maak omdat daar geglo word dat geen steun van Amerika verwag kan word nie, stuur die VSA nou ’n groot aantal troepe om diens te doen.

President Donald Trump het verskeie kere gewaarsku en gesê Europa moet sy huis in orde kry en meer bydra tot Navo en nie net wag dat Amerika meer moet doen om Navo te versterk nie.

Daarmee het president Trump die Europese leiers verkeerd bewys en het hy, volgens militêre deskundiges, daarin geslaag om Europa paraat te maak.

Duitsland was die eerste land wat bekommerd geraak het dat die VSA sy betrokkenheid in Navo gaan verminder, maar het di optrede van die VSA verwelkom toe aangekondig is dat 1 500 goed opgeleide soldate na Europa gestuur word.

Waarnemers sê die optrede van die VSA is ’n voorbeeld van wat elke ander lidland van Navo behoort te doen.

Tans het Amerika 33 000 soldate in Duitsland, en die 1 500 wat gestuur word, is ’n sterk aanduiding dat Amerika ernstig is dat Navo sterk gemaak moet word.