VSA skenkings aan Palestina gestaak

Aanvanklik heet die Trump-administrasie sy jaarlikse skenking van $355 miljoen aan Palestina verminder met $200 miljoen weens die land se optrede teen Amerika in die onlangse verlede.

Die afgelope week het President Donald Trump gesê Amerika gaan nou ook sy bydrae tot die Verenigde Nasies se agentskap wat diens lewer aan sowat 5 miljoen Palestynse vlugtelinge, ook staak.

Politieke ontleders sê die aankondiging, wat saamgelees moet word met die vermindering van die ander bydrae, kom as ’n ernstige terugslag vir die Palestyne.

Die vermindering van $200 miljoen raak die Palestyne se opvoeding en gesondheidsdienste,  en nou word die vlugtelinge ook nie verder gehelp nie.

Die Trump-administrasie het gedurende April aangekondig dat sy ambassade verskuif na Jerusalem om daarmee erkenning te gee dat dit die hoofstad van Israel is, maar wat toe hewige reaksie van die Palestyne ontlok het.

’n Woordvoerder van die Amerikaanse owerheid sê in ’n verklaring die VSA is by verre die grootste donateur aan Palestina en het jaarliks sowat 30% van die totale skenking voorsien.

Die optrede van Palestina teenoor Amerika is egter onaanvaarbaar, en daarom kan die VSA nie voortgaan met reuse skenkings terwyl daar teen hom betoog word nie, is gesê.