Uitsoek VW versameling op veiling

Bengt Holmgren het in 1960 ’n Volkswagen Kewer bekom en sedert daardie dag begin om ’n versamelaar te word van klasieke Volkswagens.

Sy versameling van 70 verskillende modelle het ’n aantrekkingskrag geword wat hy 25 jaar gelede begin het toe hy ’n eie Volkswagen museum gevestig het.

Dit is die grootste versameling van Volkswagens in Swede, maar die motors is nou in die mark om opgeveil te word deur ’n afslaers maatskappy wat reken die voertuie sal ’n uitermatige hoë prys behaal.

Bengt Holmgren se museum wat in die Sweedse dorp Palsboda is, en sowat 200 kilometer van die hoofstad Stockholm is, berg ondermeer die uiters gewilde Volksie Tipe 1 Kewers van die jaar 1948 tot 1975, waarby ingesluit is die skaars 1973 SP-2 sportmodel wat in Brasilië vervaardig is.

Wat die versameling besonder maak, is dat elke voertuig ’n eie verhaal het, wat dit vir die eienaar moeilik gemaak het om die besluit te neem om die versameling onder die hamer te sit.

Hy sê daar is nie genoeg geld om werklik vir die versameling te betaal nie omdat elke voertuig ’n spesiale plek vul in die museum.

Intussen het hy die museum gesluit aan die begin van September om alles gereed te kry vir die veiling.