TV reus Sky News kry nuwe baas

Comcast, die TV reus van Amerika het die stryd gewen en sal voortaan beheer uitoefen oor Sky News, die grootste TV maatskappy in Europa.

Die beheer is bekom in ’n drievoudige rondte van veilings dur Britse reguleerders wat uiteindelik die stryd gefinaliseer het.

Comcast het aangebied om Sky vir $40 miljard te koop en daarmee die bod van die meer konserwatiewe Rupert Murdoch se Twenty-First Century Fox uitgeknikker.

Die koper het 17,28 Britse pond per aandeel gebied, wat aansienlik meer is as Vrydag se sluitingsprys van Sky aandele van 15,85 pond.

Fox het reeds in Desember 2016 sy aanbod gemaak, maar die oor en weer onderhandelings het daartoe gely dat Comcast ook sy belangstelling getoon het.

Met die oorname word Comcast, wat ook beheer het oor NBC Netwerk, sowel as Universal Pictures, die wêreld se grootste betaal-kanaal TV maatskappy met sowat 52 miljoen kliënte.

Sky se 23 miljoen huishoudings is hoofsaaklik in Brittanje, Ierland, Duitsland, Oostenryk en Italië gevestig en het Comcast se aanbod aanbeveel.

Fox, wat 39% van Sky besit, staan nou voor die keuse om sy aandele te verkwansel en sal glo binnekort ’n finale besluit neem.

Sky News het nou ’n week tyd om te besluit of hulle die aanbod aanvaar.