Trump wil Sjina ekonomies knel

Onbevestigde berigte lui dat die Trump-administrasie beplan om verdere invoerheffings op Sjinese goedere te hef ten bedrae van $200 miljard, wat hernude vrees laat opvlam dat ’n wêreldwye handelsoorlog kan uitbreek.

Volgens koerante in die VSA wat Saterdag verskyn het, beplan die Amerikaanse president, Donald Trump, verdere maatreëls om die invoer van Sjinese goedere verder te belas.

Die koerante beweer dat “hooggeplaastes” die inligting verstrek het van president Trump se plan om spesiale heffings teen Sjinese goedere te hef, wat die kommunistiese staat ’n ernstige knou kan gee.

Die vermoede bestaan dat president trump ’n aankondiging sal maak gedurende die week en dit kan lei tot hewige reaksie van een land teen ’n ander om eie belange te probeer beskerm.