Top vroue diplomate hou konferensie

Die ministers van buitelandse sake uit 20 state van die wêreld het die afgelope naweek ’n “slegs vroue” konferensie gehou wat ’n unieke eerste van sy soort is.

Die vroue wat almal hulle land se amp as top diplomaat beklee, het in Montreal, Kanada byeengekom vir ’n besondere konferensie.

Die konferensie wat oor twee dae gestrek het, is gehou om te onderstreep dat vroue ook ’n sleutelrol kan vervul in hulle land se politieke bestel en ’n uiters belangrike funksie vervul in die besluitnemingsprosesse.

Die minister van buitelandse sake van Kanada, Chrystia Freeland, het saam met die eweknie van die Europese Unie, Federica Mogherini, om die beurt as voorsitter van die konferensie opgetree.

Die konferensie fokus ook op inisiatiewe om vrede te bevorder, ekonomiese en sosiale uitdagings te bespreek en versterking van die demokrasie.

Regoor die wêreld beklee 30 vroue die amp as top diplomaat van hulle land, maar minstens tien kon nie die konferensie bywoon nie.

Die lande, Andorra, Bulgarye, Costa Rica, Kroasië, Dominikaanse Republiek, Ghana, Guatemala , Honduras, Indonesië, Kenia, Namibië,  Noorweë, Panama, Suid-Afrika, Rwanda, Saint Lucia en Swede was saam met Kanada en die EU teenwoordig.