Tifoon ruk Japan tot stilstand

Jebi, ’n kragtige tifoon, het Japan se kus Dinsdag getref en reuse skade aan infrastruktuur en eiendom aangerig wat ondermeer insluit dat verskeie groot vragmotors omgewaai is deur die geweldige stormwind.

Minstens een persoon het omgekom en tientalle het beserings opgedon en moes hospitaal behandeling ontvang.

Die massiewe tifoon het die westelike deel van Japan getref teen die middag, en mense moes inderhaas skuiling soek terwyl vreesaanjaende watergolwe die kus in ’n onbekende toneel verander het.

Dit is die negende tifoon wat Japan vanjaar tref maar ook die hewigste storm wat vanjaar die weskus  getref het.

Stormwind van tot 220 kilometer per uur, het vir ure geduur en mense gedwing om binne in geboue te bly terwyl swaar reën onophoudelik neergegiet het.

Een van die besigste lughawens se aanloopbaan was vir ure onder water, en sowat 180 000 gesinne is sonder elektrisiteit gelaat wat eers na dae  herstel kan word.