Sweedse premier kry wantroue mosie

Die Sweedse premier, Stefan Lofven, het ’n mosie van wantroue op die lyf geloop in die parlement wat gesteun is deur die kleiner partye van die land.

Die resultaat van die mosie beteken dat die eerste minister sy bedanking moet inhandig, wat ook kan beteken dat dit die einde van die Sosiaal Demokrate as regeerders is.

Dit is die eerste keer dat ’n mosie van wantroue in die Sweedse parlement slaag teen die land se eerste minister, maar dit is ook ’n besondere geval.

Onderhandelings tussen die verskillende politieke partye is steeds aan die gang na die verkiesing van 9 September waartydens geen party ’n volstrekte meerderheid kon behaal nie.

Met ’n hang-parlement is die eerste minister en sy Sosiaal Demokrate egter in ’n tussentydse hoedanigheid aangewys as regeerder tot ’n nuwe regering uit die verskillende partye saamgestel kan word.

Die anti-immigrante politieke party, die Sweedse Demokrate, wat sterk groei getoon het in die afgelope verkiesing en 62 setels verower het, het ook die mosie van wantroue gesteun.

Intussen moet die premier se opvolger aangewys word wat sal dien as tussentydse regeringshoof, maar die gevaar bestaan dat die kleiner partye ook in ’n nuwe, maar tydelike premier van die Sosiaal Demokrate, ’n wantroue mosie instel.

Waarnemers meen so ’n stap kan algehele chaos in die Sweeds politiek beteken.

Foto – Stefan Lofven