Stryd verskerp tussen Britte en EU

Die Britse eerste minister, Theresa May, het ’n bloutjie geloop in Oostenryk tydens die informele byeenkoms van leiers van die Europese Unie.

Alhoewel sommige waarnemers meen die premier het nie net ’n vernederende nederlaag gely nie, maar ook moes verduur dat sekere leiers haar sonder die nodige respek behandel het.

Premier May het ’n alleen stryd gevoer en geen steun van enige aard ontvang vir haar standpunte en voorstelle nie, en moes uiteindelik huiswaarts keer sonder enige werklike vordering.

Sy het later te kenne gegee dat sy in belang van die Verenigde Koninkryk en sy inwoners optree, en nie bereid is om toegewings te maak oor dit waarvoor sy staan nie.

Sy het weer bevestig dat die twee belangrikste verskille met die EU steeds onopgelos is, en alhoewel beide partye graag ’n ooreenkoms wil bereik, is daar nog ’n moeisame pad wat gestap gaan word.

Die een probleem is die grens van Noord-Ierland wat nie deel van die Ierse Republiek is nie, en gevolglik word premier May se voorstel in die verband deur die EU verwerp.

Die eerste minister sê sy het die EU met die nodige respek behandel en verwag van hulle om minstens dieselfde te doen.

Oor die moontlikheid van ’n opvolg referendum het sy weer bevestig dat die kiesers van die Verenigde Koninkryk hulle stem uitgebring het, en daardie meerderheid se keuse moet uitgevoer word, wat beteken dat daar geen sprake van ’n tweede referendum is nie.

Premier May het egter bygevoeg dat sy by haar standpunt en voorstel sal bly, en wil beklemtoon dat geen ooreenkoms met die EU oor uittrede beter is as ’n slegte ooreenkoms.

Foto – Premier May