Steun mekaar: oproep van VF Plus leier

Dit staan lede van VF Plus vry om ook vir die volgende Volksraadsverkiesing by die Volksraad Verkiesing Kommissie (VVK) te registreer.

Dit was die antwoord van dié party se leier, dr. Pieter Groenewald, op ‘n vraag tydens ‘n byeenkoms van die Studiegroep vir Eietydse Geskiedenis in Pretoria. Dr. Groenewald sê hy het die Boere-Afrikanervolksraad gehelp om hulle petisie by die parlement aan al die parlementslede te versprei, en hy het ook gesorg dat daardie petisie in die presidensie afgelewer is.

Dr. Groenewald sê daar is geen fout met die feit dat daar ‘n aantal organisasies is wat bepaalde Afrikanerbelange bevorder nie. Die ANC het in sy destydse stryd ook ‘n swetterjoel organisasies gehad wat hom ondersteun het en met wie hulle saamgewerk het. Hy sê Afrikanerorganisasies behoort mekaar te help en te ondersteun.

Daarom vra hy ook dat Afrikaners ook hulle stem sal laat hoor in volgende jaar se algemene verkiesing. Tans is die ANC aan bewind terwyl hy slegs 31,5% van die stemgeregtigde kiesers verteenwoordig. As meer mense teen hom stem, kan sy mag en invloed drasties ingekort word en kan dit nuwe geleenthede vir die Afrikaner skep om sy strewe na selfbeskikking voort te sit.

  • Die volgende byeenkoms van Sege vind plaas op Maandag 29 Oktober, waartydens mnr. Jaap Kelder sal praat oor die nuwe selfbeskikkingswetgewing wat in terme van art 235 van die land se grondwet opgestel is en nou vir bespreking beskikbaar gestel is. Op Vrydag 16 November hou Sege sy afsluitingsfunksie waartydens mnr. Alwyn de Klerk toeligting gaan gee oor die komende Paul Kruger herdenking. Mense wat enige van die twee funksies wil bywoon, kan net hulle naam in ‘n teksboodskap (“sms”) stuur na 0826812522 om ‘n uitnodiging met verdere besonderhede te ontvang.