Soedan sit sonder regering

President Omar al-Bashir van Soedan het nie net die eerste minister, Bakri Hassan Saleh, afgedank nie, maar die hele kabinet bestaande uit 31 ministers.

Die president het op navraag aangevoer dat hy ’n kleiner kabinet vir die land wil sien weens ekonomiese redes. Die land het tans ’n inflasiekoers van 65%.

Di ekonomiese krisis is besig om handuit te ruk en die regerende Nasionale Kongres Party slaag nie daarin om die ekonomie te verbeter en die inflasie te verminder nie.

Omar al-Bashir sê ’n kabinet van 21 ministers is voldoende en het besluit dat die voormalige minister van besproeiing, Moutaz Mousa Abdallah, die nuwe eerste minister sal wees.

Soedan se groeikoers wat op ’n stadium 6% was, het nou gedaal na 0,5% nadat hy die rykste olievelde verloor het en moes afstaan aan Suid-Soedan.

Die president het die kabinet ontbind en sal waarskynlik eers na ’n paar dae weer behoorlik saamgestel word.

Foto – President Omar al-Bashir