Sjina snel Venezuela te hulp

Die Suid-Amerikaanse staat Venezuela, wat reeds vir etlike jare sonder medikasie vir sy inwoners is weens sy finansiële verknorsing, word nou deur Sjina ondersteun.

’n Reuse vragskip wat hoofsaaklik mediese voorraad dra, het die afgelope naweek in die hawe anker gegooi, en word beskou as ’n strategiese skuif van die Sjinese om ’n vastrapplek in die olieryke staat te kry.

Die Sjinese weermag se mediese skip, “Peace Ark” het in die hawe van La Guaira aangekom waar mediese voorraad aan die inwoners beskikbaar gestel sal word terwyl die land in sy grootste ekonomies krisis verkeer.

Die VSA het intussen aangekondig dat hy ook ’n skip met mediese voorraad gereed kry om na Venezuela te reis ten einde die nood te verlig.

Die Amerikaanse sending sal ook fokus op die inwoners wat na die buurland, Columbië gevlug het om voedsel en medikasie te bekom.

Woordvoerders van die regering in Venezuela sê hulle vrees die Amerikaanse betrokkenheid wat beskou word as ’n eerste stap om militêr in te gryp in die land op grond van menslikheid oorwegings.

Die minister van verdediging, Vladimir Padrino, het in sy verwelkomingswoord van die Sjinese skip gesê dit is hoe werklike hulpverlening is, en nie soos sekere lande wat die dromme van oorlog laat opklink nie.

Daarmee het die minister sy lojaliteit teenoor die Sjinese getoon en die hulp van die Amerikaners verdag laat lyk.

Foto – Sjinese skeepsbemanning