Resessie tref SA, afgradering kan volg

Die lang verwagte resessie het Suid Afrika ‘n tweede keer getref, en daar word nou gevrees dat Suid-Afrika verder afgradeer kan word en dieper in rommelstatus kan insink..

‘n Resessie volg na twee agtereenvolgende kwartale van dalende bruto binnelandse produksie en dui op ‘n langdurige vertraging in ekonomiese aktiwiteite.

Die aankondiging is gemaak deur Risenga Maluleke, die statistikus-generaal in Pretoria.

Die aankondiging het die rand tot sy laagste vlak sedert Junie 2016 laat val en die rand het bo R15 teen die dollar verhandel.

Intussen het Nhlanhla Nene, die minister van finansies, gesê die regering het nie die resessie sien aankom nie en dit is nie as gevolg van die grondsteel aankondiging nie.

Volgens ekonome het die euforie rondom Cyril Ramaphosa hiermee finaal gesterf en selfs sy sogenaamde hulp van Sjina, gaan geen verskil maak nie.

Die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor finansies, mnr. Wouter Wessels, sê die resessie dui op die regering se onvermoë om ekonomiese stabiliteit te bewerkstellig. Met Suid-Afrika se hoë werkloosheidskoers en armoede, kan ‘n resessie nie bekostig word nie.

Mnr. Wessels sê die huidige resessie kan voor die deur van die ANC-regering se onbesonne beleidsrigtings, soos onteiening sonder vergoeding geplaas word. Die onsekerheid wat deur die voorgestelde grondwetwysiging veroorsaak word, strem beleggings en uitbreiding wat kan werk skep en tot ekonomiese groei kan lei.

Die regering se arbeidsbeperkende wetgewing en beleid is verantwoordelik daarvoor dat groot maatskappye eerder hul fabrieke en ondernemings na die buiteland skuif wat tot minder werksgeleenthede in Suid-Afrika lei.

“Daar is ‘n nuwe ekonomiese beleid en rigting vir die land nodig waar vryemark-beginsels geld asook ‘n fiskale beleid wat die staat se finansiële posisie versterk, aanspreeklikheid verseker en ‘n omgewing skep waar die privaatsektor kan groei. ‘n Land waarvan die staatskas bankrot is en waar goeie fiskale dissipline afwesig is, sal nie volhoubare ekonomiese groei geniet nie,” sê mnr. Wessels.