Ramaphosa lieg deur sy tande oor plaasmoorde

In ‘n videogreep wat geneem was tydens Cyril Ramaphosa se besoek aan die Verenigde Nasies in New York, stel hy dit duidelik dat géén blanke boere op plase vermoor word nie, en dat daar geen onwettige grondbesettings in Suid-Afrika plaasvind nie.

TLU SA sê dit nadat ten minste 43 mense reeds vanjaar op plase vermoor was waarvan 20 blanke boere was, volgens sy gesaghebbende databasis.

‘n Aansienlike hoeveelheid onwettige grondbesettings wat plaasgevind het was deur die nasionale media gerapporteer. Waar die land se president aan hierdie blatante valshede kom, sal net die man in die maan weet, sê TLU SA se president, mnr. Louis Meintjes. “Duidelik is die president se begrip van brutale Suid-Afrikaanse werklikhede die gevolg van erg verdraaide ideologiese tonnelvisie. Hy lieg deur sy tande.”

Dr. Pieter Gronewald sê Cyril Ramaphosa se ontkenning van plaasmoord en grondgryp in Suid-Afrika is oneerlik en ʼn blatante leuen. “Dit is ʼn jammerlike poging om die buiteland hieroor ʼn rat voor die oë te draai.

“Die president is óf totaal waningelig óf hy is besig met ʼn blatante poging om die Verenigde Nasies (VN) én die wêreld onder ʼn vals indruk te bring, veral oor plaasmoord.

“Die feit dat die polisie self die statistiek oor plaasmoord en -aanvalle bekend stel, asook vorige polisieverslae oor plaasaanvalle, erken die werklikheid van plaasmoord en -aanvalle en dit maak dit onverstaanbaar dat die president van die land in ʼn staat van ontkenning daaroor is en die boere sodoende in die steek laat.

“Aan die een kant vertel hy hoe belangrik boere is, maar in die buiteland verraai hy hulle.

“Indien die president werklik eerlik wil wees teenoor die wêreld, moes hy eerder gevra het dat internasionale hulp verleen word om te kyk hoe ʼn bydrae gemaak kan word om misdaad in Suid-Afrika te bekamp, en in besonder plaasmoord wat deels die oorsaak is van die gebrekkige landelike beveiligingstelsel en -strategie in Suid-Afrika,” sê dr. Groenewald.