Qatar word geografies geïsoleer

Die spanning tussen Saoedi Arabië en Qatar is verder verhoog toe aangekondig is dat planne gereed gemaak is om ’n kanaal te grawe wat Qatar effektief ’n eiland sal maak.

Volgens ’n verslag wat vrygestel is, wil Saoedi ’n kanaal grawe by die grens van Qatar om ’n skerper skeiding met die buurland te bewerkstellig.

Die twee lande het reeds die afgelope jaar diplomatieke bande verbreek en die nuwe plan van Saoedi kan die spanning tussen die Arabiese lande tot breekpunt dryf.

’n Senior adviseur van kroonprins Mohammed bin Salman het bevestig dat die koninkryk oorweging skenk aan die moontlikheid om ’n kanaal te grawe langs die 60 kilometer grens met Qatar wat ook 200 meter breed sal wees.

Dit sal van Qatar ’n eiland maak in die Midde-Ooste, en ’n woordvoerder sê hy wag net vir meer duidelikheid en gegewens vir die implementering van die projek.

Qatar sê in reaksie daarop dat hy verskillende kere probeer het om dialoog te voer met Saoedi-Arabië, maar die buurland weier om enige gesprek met Qatar te voer.

Waarnemers wys daarop dat die toedrag van sake die spanning tussen die Arabiese lande in die Midde-Ooste tot breekpunt kan neem.

Spanning het opgebou nadat Saoedi beweer het dat die owerheid van Qatar finansiele steun aan terroriste bewegings verleen het, en sy diplomatieke bande met die buurland verbreek het.