Pro-Russiese rebelleleier gedood

Aleksandr Zachartsjenko, die leier van die pro-Russiese rebelle wat hulle eie republiek gestig het deur afskeiding van die Oekraïne, is deur ’n ontploffing gedood.

Die afgestigte Volksrepubliek Donetsk’ het in 2014 tot stand gekom onder leiding van die rebelleleier wat die steun van Moskou gekry het.

Die skielike dood van Aleksandr Zachartsjenko is ’n swaar slag vir die rebelle in Donetsk wat in alle opsigte die leiding geneem het om die afskeiding moontlik te maak, en het deurgaans gesorg vir die strategie tydens die gevegte met die leërmag van die Oekraine.

Zachartsjenko is gedood in ‘n bekende kafee genaamd Die Separatiste in die stad toe ’n geplante bom naby hom ontplof het.

Volgens die Russiese persburo is vier ander mense wat ook in die kafee was, ernstig beseer deur die ontploffing, waarvan een die hoof van die inkomstediens is.

Die Westerse lande het sanksies teen Rusland ingestel weens die land se betrokkenheid om die separatiste by te staan om onafhanklikheid te kry.

Foto – Aleksandr Zachartsjenko