Premier May weier tweede referendum

Die Britse eerste minister, Theresa May, het weer eens gesê die moontlikheid van ’n opvolg referendum oor lidmaatskap van die Europese Unie word nie oorweeg nie.

Sy het dit duidelik gemaak dat ’n referendum gehou is, en die kiesers van die Verenigde Koninkryk het toe die geleentheid gehad om hulle keuse te maak.

Sy sê ’n tweede referendum oor dieselfde saak is verraad teenoor die demokrasie en kan nie toegelaat word nie.

Die standpunt kom nadat die pro-EU kiesers eise gestel het dat ’n tweede referendum gehou moet word om te verseker dat lidmaatskap gehandhaaf word, maar die Britse premier laat haar nie van stryk bring nie.

Tans word hewige debatte gevoer in Brittanje oor die wenslikheid al dan nie van EU lidmaatskap, en die verdeeldheid onder Britse kiesers is sodanig dat dit oor politieke grense spoel.

Premier May sê die hou van ’n tweede referendum sou nie net verraad wees teenoor die land se demokrasie nie, maar ook verraad teen die vertroue.

Foto – Premier Theresa May