Paniek toe vliegtuig gly van aanloopbaan

Minstens agtien passasiers het beserings opgedoen toe die vliegtuig waarin hulle was neergestryk het, maar van die landingsbaan gegly en deur ’n hek gebars het.

Die Russiese Boeing 737-800 vliegtuig wat vanaf Moskou na Sotsji onderweg was met 164 passasiers en ses bemanningslede het uiteindelik op die wal van ’n nabye rivier gestop.

’n Brand het ontstaan en die bemanning moes inderhaas reëlings tref om die passasiers na veiligheid te neem, maar die brandweer was vinnig op die toneel en kon die vlamme binne 30 minute blus.

Onder die beseerdes was 3 kinders wat ook in ’n naby geleë hospitaal opgeneem is vir behandeling.

Dit is nie bekend wat veroorsaak het dat die vliegtuig op die landingsbaan gly nie, maar ondersoek word ingestel na die voorval.