Orkaan Florence eis tientalle lewens

Die orkaan Florence het nie net honderde geboue beskadig en infrastruktuur ontwrig in drie Amerikaanse deelstate nie, maar het ook die lewens van minstens 31 mense geëis.

Chaos is die afgelope tyd in Noord-Karolina, Virginië en Suid-Karolina veroorsaak toe die orkaan vir etlike dae voortgewoed het.

Die eerste opname van beraamde skade beloop meer as 17 miljard dollar, maar kenners meen dit kan selfs meer wes aangesien al die opnames nie volledig is nie.

Volgens ’n opname wat Dinsdag gemaak is staan sowat 1 500 strate steeds onder water ’n is dit nie per voertuig begaanbaar nie.

Honderde mense is steeds afgesny weens die onbegaanbaarheid van paaie wat verspoel het of deur omgevalle bome versper word.

Die grootste deel van die gebied se skole is nog gesluit en sal waarskynlik eers oor ’n paar dae hulle werksaamhede hervat.

Maandag was meer as 400 vlugte gekanselleer as gevolg van lughawens wat nog nie gereed is om vlugte toe te laat nie, en sowat 500 000 inwoners sit sonder elektrisiteit en baie het ook nie lopende water in hulle huise se krane nie.