Nieu-Seeland kry ook aarbei-naalde

Enkele dae nadat Australiese inwoners ontdek het dat naalde in aarbeie gesteek is wat mense se dood kan beteken, is dieselfde probleem nou in Nieu-Seeland gevind.

’n Supermark kettinggroep het naalde in ’n houer van Australiese aarbeie gekry en onverwyld die hel besending onttrek van hulle rakke.

In Australië is meer as 100 soortgelyke gevalle gevind gedurende die afgelope paar weke, en intensiewe ondersoeke word nou gedoen om die skuldiges op te spoor.

Die supermark en owerheid in Nieu-Seeland het mense gewaarsku om op die uitkyk te wees en liefs nie die spesifieke verpakking se aarbeie aan te koop nie.

Die aarbeie kom glo uit Wes-Australië en ’n supermark in Auckland het die naalde in die verpakking aarbeie gevind en dadelik alarm gemaak.

Na wat berig word het geen persoon van die aarbeie geëet nie en kon mense betyds gewaarsku word om nie van die aarbeie te koop nie, en supermarkte het die betrokke verskaffer se aarbeie van sy rakke verwyder in al die takke van die winkelgroep.

Intussen het die Australiese regering wetgewing deurgevoer wat voorsiening maak vir tot 15 jaar tronkstraf vir iemand wat beskou word as ’n “voedsel terroris”.