Motorrubriek – Volkswagen Touareg

Die Touareg is sedert 2002 ‘n bekende gesig op ons land se paaie. Hierdie is inderdaad ‘n sportnuts voertuig van formaat.

In die nuwe “gewaad” is dit nog meer aansienlik. Volkswagen se ingenieurs het dit goed gedink om dit breër en langer te bou en dit staan nou 1702 mm hoog. Volgens die vervaardiger kan die bagasiebak, met die sitplekke in plek, 810 liter bagasie neem.

Deur gebruik te maak van ligter materiaal is die voertuig nou 106 kg ligter as sy voorganger. Hierdie ligter bakwerk, wat op die MLB onderstel gemonteer is, word aangedryf deur ‘n 3 liter, V6, turbodiesel enjin en dit voorsien krag van 190 kW en wringkrag van 600 Nm. Hierdie kragbron gaan in die toekoms in die Amarok ook diens doen.

Die krag word na al vier wiele oorgedra en sodoende sorg dit vir uitsonderlike goeie padhou vermoë en of die pad oppervlakte goed is of minder goed, die rit is van ‘n hoë standaard. Voorts is die suspensie wat op al vier hoeke van die voertuig gemonteer daarvoor verantwoordelik dat die beheer oor die voertuig uitstekend is.

Daar is verskeie aanpassings aan die binne-afwerking van die voertuig gedoen. Die instrumentpaneel is van die mees aansienlikste wat nog in ‘n voertuig gemonteer is. Met die deeglikheid waarvoor Volkswagen bekend is, is die afwerking gedoen. Die instrumente wat regvoor die bestuurder gemonteer is, is duidelik leesbaar deur die boonste deel van die leer bedekte stuurwiel. ‘n Reeds bekende gesig van die stuurwiel is die onderste gedeelte met die plat gedeelte wat verseker dat daar met gemak agter die stuurwiel kan ingeskuif word. Op die stuurwiel is al die nodige beheer skakelaars gemonteer en die mat, alluminium afwerking van die drie speke, verskaf ‘n indrukwekkende gesig van duursaamheid.

In die middelste gedeelte van die instrumentpaneel is die aanraakskerm gemonteer met al die beheerskakelaars vir al die toerusting en meer wat in die voertuig benodig word om dit ‘n formidabele voertuig te maak. Al die materiaal wat gebruik word is van die “sagte aanraak” materiaal soort. Die leer bedekte sitplekke sorg vir ‘n aangename rit met sy-ondersteuning wat verseker dat jy hoogstaande rygerief kan geniet.

Die binnekant van die voertuig word verlig deur ‘n “sagte lig” wat deur die panoramiese sondak van 1270 mm by 825 mm voorsien word.

In die middel konsole is al die skakelaars binne maklike bereikbare afstand en die rathefboom pas netjies in die palm van jou linkerhand. Daar is ‘n gerieglike arm stut tussen die voorste sitplekke, wat wanneer dit oopgemaak word, ‘n handige bêreplek is vir goedere.

Plek vir jou bene is nie ‘n probleem nie en al die insittendes kan ‘n gemaklike sitposisie inneem en die rit geniet. Hierdie is die ideale voertuig vir die natuur liefhebber en eintlik is die lang pad sy “kos” want daar kom dit tot sy volle reg.

Aan die buitekant is die afwerking van ‘n hoë standaard en van voor af met die Volkswagen kenteken op die sierrooster en die luginlate aan die onderkant,skep dit die indruk van kwaliteit. So ook aan die sy-en agterkant. Die agter ligte gaan om die hoek en die dubbele, ovaal uitlaat pype vertel ‘n storie van hulle eie. Hierdie is ook ‘n ideale sleepvoertuig en sal ‘n sleepwa of woonwa met gemak kan sleep.

Indien u in die mark is vir ‘n sportnuts voertuig kan u gerus met u naaste Volkswagen handelaar besoek en dit vir ‘n toetsrit neem.