Motorrubriek – Volkswagen Polo GTI 2,0 TSI

Met die nuwe Polo GTI het Volkswagen letterlik en figuurlik die spreekwoordelike ‘haas uit die hoed” getrek. Hierdie reeds gewilde motor gaan heelwaarskynlik nog meer gewild word want dit is ‘n “blitsbuks” en die prys is verminder.

Die sierlike lyne aan die buitekant met die rooi streep onderkant die GTI kenteken op die heuningkoek sierrooster, trek dadelik die aandag wanneer die motor aan die buitekant bekyk word. Die kolligte in die onderste deel van die sierrooster help om die pad tydens ‘n nag rit nog meer te verlig en derhalwe is die veiligheids aspek ook aangespreek. Aan die agterkant maak die deksel groot genoeg oop om die laai van bagasie te vergemaklik en die dubbel uitlaatpyp aan die linkerkant vertel sy eie verhaal.

Die bakwerk is op die bekende MQB AO onderstel gemonteer en wat nie vir die oog sienbaar is nie is die opgradering van die hele veerstelsel na ‘n sportveerstelsel wat die padhouvermoë verbeter en verseker dat daar beter beheer uitgeoefen kan word. Hierdie veerstelsel laat die voertuig 15 mm nader aan die padoppervlakte hurk en die 17 duim allooi wiel vellings met lae profiel bande maak die buite-afwerking nog meer aansienlik.

Baie van die onderdele wat gebruik word, kom uit die onderdele rak van die Golf GTI. Een daarvan is die leer bedekte stuurwiel met die onderste gedeelte wat plat is wat dit makliker maak wanneer daar ingeklim word. Die sitplekke is “sitkamer” gemaklik en die binne-afwerking het ‘n aantreklike rooi byvoeging wat die aandag vestig op goeie kwaliteit.

Die voor en agter wiel afstand is verhoog en dit maak ‘n verskil aan die padhouvermoë. Of dit op die snelweg is of in die dorp/stad, daar is ‘n merkbare verskil. Met die dat daar beter werkverrigting is, kan ‘n mens geneig wees om te dink dat iets ingeboet gaan word. Dit is egter nie die geval nie. Die ingeneurs van Volkswagen het gesorg dat daar ‘n fyn balans is. Volgens toetse uitgevoer is dit instaat om van 0 tot 100 km/u te versnel in 6,8 sekondes en die maksimum snelheid is 237 km/u. Alhoewel dit van akademiese belang is, is dit tog van goed om te weet waartoe die motor instaat is.

Wanneer daar na die tegniese inligting gekyk word dan besef ‘n mens hierdie is eintlik ‘n uitsonderlike motor. Die bekende, EA888, 2 liter inlyn, vier silinder kragbron met turbo aanjaer word gebruik en ‘n ses spoed, dubbel koppelaar, DSG ratkas word gebruik vir die krag oorbrenning van 147 kW en wringkrag van 320 Nm na die wiele. Hierdie wringkrag is beskikbaar tussen 1500 o.p.m. en 4400 o.p.m.

Wat die binne-afwerking aanbetref kan daar genoem word alle toerusting benodig om ‘n gerieflike rit te verseker is beskikbaar. Radio, lugversorger en jy noem dit en dit is gemonteer. Die instrument paneel is regvoor die bestuurder gemonteer en die Active Info Display stelsel verseker dat die voertuig na behore geniet kan word.

Die resep van beter werkverrigting, goedkoper prys ensovoorts gaan ‘n groot aantrekkingskrag wees en voornemende kopers van ‘n blitsbuks kan gerus hulle naaste Volkswagen handelaar gaan besoek en die Polo GTI neem vir ‘n toetsrit. Hierdie is inderdaad ‘n mkotor van formaat – wens daar was ‘n beter verhouding tussen my en my bankbestuurder!!!