Motorrubriek – Hyundai Tucson

In die Hyundai reeks was die Tucson nog altyd ‘n baie gewilde voertuig.

Die nuutste toevoeging tot reeks het verskeie veranderings ondergaan. Hierdie veranderings gee dit ‘n meer moderne aansig en laat dit uitstaan bo die ouer modelle. Daar is omtrent nie deel wat nie aangepas is nie. Aan die buitekant is daar ondermeer aan die voorkant verskeie veranderings aangebring. ‘n Nuwe sierrooster is ingebou met vier chroom dwars stutte, nuwe hoof en kolligte is gemonteer, LED dag ligte is geinstalleer, die voorste stamper is aangepas en vorm ‘n meer integrale deel van die sierrooster met die bekende Hyundai “H” embleem wat geen twyfel laat na watter produk daar gekyk word nie.

Die agterkant is ook aansienlik verander met nuwe panele, ander vorm van agterligte, kolligte om dit gedurende die nag meer opsigtelik te maak, ‘n bykomende gly plaat aan die onderkant en nuwe uitlaat pype.

Die binnekant is opgegradeer en sluit in nuwe instrumente, ‘n groter aanraak skerm, die luguitlate is verander maar die stuurwiel is nog dieselfde met al die nodige kontrole soos voorheen wat gemonteer is.

Daar is sewe verskillende modelle beskikbaar met pryse wat wissel tussen R399 000 en R569 900. Dit wissel tussen die Premium, Executive en Elite modelle. In hierdie modeele is daar weer meer luuks as die ander. Die vorige 1,7 liter model met die handratkas is nie meer beskikbaar nie en in sy plek is daar nou ‘n 2 liter met outomatiese ratkas beskikbaar. ‘n Heel nuwe ratkas is gepas en die oorskakeling van die ratte verloop seepglad. Soveel so dat dit bykans nie waarneembaar is nie.

Die 2 liter, NU kragbron wat in die basiese, petrol model Premium gepas is ontwikkel 115 kW en die wringkrag van die model is 196 Nm. Verdere toerusting sluit in ses lugsakke, ABS remme met EBD ondersteuning, lugversorger, elektries beheerde vensters met ‘n enkel skakel posisie vir die bestuurder, wegvoubare, elektries beheerde buite spieëls, snelheids beheer en ‘n tru kamera om seker te maak dat alles veilig is wanneer daar geparkeer word. Dit is die enigste van die reeks wat met of ‘n handratkas of outomatiese ratkas beskikbaar is.

Die Executive is beskikbaar met of ‘n 2 liter petrol of 131 kW/400 Nm turbodiesel kragbron. Voorts is daar in die Executive beskikbaar met leer bekleedsel, ESP met VSM rem ondersteuning, blinde kol inligtings bron en nog talle ander handige hulpmiddels.

Die Elite, top vlak modelle is beskikbaar met ‘n 2 liter, direkte brandstof inspuiting turbo diesel met ‘n agt spoed outomatiese ratkas. Die oomblik is dit voorwiel aandrywing maar gerugte doen die rondte dat Hyundai dit oorweeg om die alle wiel aandrywing voertuig beskikbaar te stel sou daar so ‘n behoefte by voertuig eienaars ontstaan.

Hierdie is ‘n voertuig wat op die oop pad, in die wildtuin en jy noem dit, ‘n voertuig is wat oorweeg kan word indien daar ‘n behoefte vir ‘n sportnuts voertuig bestaan en u kan dit gerus op u aankope lys plaas.