Motorrubriek – Hyundai H1 2,5 diesel

Hyundai is een van die suksesverhale vanuit die Oosterse wêreld. Sedert die eerste voertuie op ons land se paaie verskyn het, het dit ‘n goeie indruk gelaat. Dit is betroubaar en is eintlik ware “werkesels”.

Die Hyundai H1 in diesel gewaad is ‘n nodige toevoeging tot die motorwêreld en is goeie kompetisie vir die duurder bussies. Die afwerking is van hoogstaande gehalte en daar is min verkeerd met die rygerief. Op die hoofpaaie is die padgedrag goed en met die diesel kragbron kwyt dit goed van sy taak. Die vyfspoed outomatiese ratkas, die rathefboom is in ‘n deel van die instrumentpaneel gemonteer, skakel seepglad oor en dit is bykans nie waarneembaar wanneer dit oorskakel nie.

Die bagasieruimte is inderdaad ruim en daar kan 4 426 liter bagasie in gepak word en wanneer die tweede ry sitplekke, wat in twee verdeel is en afsonderlik geskuif kan word, is daar nog meer pakplek. Die eintlike doel daarvan dat dit geskuif kan word, is om dit maklik te maak vir passasiers wat die derde ry sitplekke wil gebruik om in die voertuig in te klim. Die sitplekke kan tot teen die voorste ry sitplekke geskuif word. Vir gerief is daar verskeie handvatsels aangebring waar aan vasgehou kan word om in te klim. Die middelste rye sitplekke se leunings kan plat vou vir meer gerief.

Hierdie is wel eintlik ‘n kommersiële voertuig maar die gerief is nie agterweë gelaat nie. Dit sluit in elektriesbeheerde vensters, lugversorging, spoedbeheer, verstelbare stuurwiel vir op en af beweging en ook in en uitskuif, bloutand telefoon stelsel, ‘n radio en nog talle ander gebruikersvriendelike hulpmiddels.

‘n Baie handige hulpmiddel is die verkoeling geriewe vir produkte wat vervoer moet word. Selfs in die paneelkissie is daar voorsiening voor gemaak.

Die lugversorger se temperatuur word outomaties beheer en die radio word met ‘n aanraakskerm beheer. Wat die veiligheid aanbetref is daar voorsiening gemaak dat die insittendes beskerm word teen ernstige beserings bywyse van ABS remme met ESP ondersteuning en vier lugsakke binne in die voertuig. Aan die buitekant sorg kolligte aan die voor en agterkant dat die buite omgewing gedurende die nag genoegsaam verlig is dat die lang pad met veiligheid aangepak kan word. Die buite spieëls word elektries beheer en wanneer die draai ligte aangeskakel word, word dit in die buite spieëls aangedui. Die voertuig kan met gemak agt persone akkommodeer en selfs meer, sou dit nodig wees.

Deur gebruik te maak van spiraalvere op die agteras, is die rygerief van hoogstaande gehalte en vir gebruik byvoorbeeld vir ‘n besoek aan die wildtuin, is die grondvryhoogte 190 mm. Om die buite-afwerking verder te beklemtoon, is daar 17 duim allooiwielnawe met 65 profiel bande, aangebring.

Wanneer daar na die tegniese spesifikasies gekyk word besef ‘n mens hierdie voertuig is gebou om harde werk te kan verrig. Die kragbron is ‘n vier silinder inlyn 2497 kub. sentimeter, 16 klep, dubbel oorhoofse diesel enjin met VGT en die krag by 3600 o.p.m. is 125 kW en die wringkrag is 441 Nm tussen 2000 en 2250 o.p.m. Brandstofverbruik is na verneem word 11,8 l/100 km. Die versnelling, alhoewel van akkademiese belang neem van 0 tot 100 km/u, 14,4 sekondes en die topsnelheid is 180 km/u.

Hierdie voertuig is die ideale voertuig vir die buitelug liefhebber en kan gerus op die aankooplys geplaas word wanneer ‘n voertuig in hierdie klas aangekoop moet word. Dit kan ook aangewend word vir die werk van byvoorbeeld ‘n boukontrakteur.