Immigrante krisis sal strydpunt wees

Die Europese Unie se parlementêre verkiesing wat in 2019 gehou word, se belangrikste strydpunt sal die enorme immigrante krisis wees wat Europa skerp verdeel het.

Die Oos-Europese lande onder leiding van die Hongaarse eerste minister, Viktor Orban, sal die euwel van immigrante uit Afrika en die Midde-Ooste gebruik om meer leiers uit die konserwatiewe kamp verkies te kry.

Saam met Hongarye is Pole, Oostenryk en Italië op die voorpunt om nuwe gesigte in die EU te kry, en die klein Oos-Europese lande wat almal redelik broos is, sal hulle steun gee vir ’n beter bedeling soos wat kanselier Sebastian Kurz van Oostenryk wil vestig.

Hy glo die onwettige immigrante moet op hulle skepe bly tot hulle aansoeke om asiel goedgekeur is. Hy reken hulle kan net so goed versorg word op die skepe as wat hulle in immigrante kampe versorg word.

Aan die linkerkant van die spektrum staan Duitsland, Frankryk, Spanje en Nederland wat alles moontlik sal doen om die konserwatiewe aanslag af te weer.

Met Angela Merkel se nuwe gedagte om miljarde euro aan Afrika lande te betaal sodat hulle die onwettige immigrante kan huisves, en Frankryk se plan om duisende mense in diens te neem om immigrante te beheer, sal die politieke stryd waarskynlik die hewigste word in die jongste geskiedenis van Europa.