Honde, bring terug ons geld

Die klein staat Liberië aan die weskus van Afrika het nou miljoene dollar nuut gedrukte banknote verloor wat klaarblyklik gesteel is.

Die diefstal het plaasgevind in die land se hoofstad Monrovia en die onlangs verkose president, George Weah, wat op besoek aan die VN was, het die menigte protesterende inwoners gemaan tot kalmte.

Die protesteerders het in die hoofstad se strate beweeg en onophoudelik geskree dat die “honde ons geld moet terugbring”.

Geldhouers, gevul met Liberiese dollars ter waarde van $104 miljoen wat in Lebanon en Swede gedruk is, en op twee datums moes aankom in die land, het nou spoorloos verdwyn en geen rekord kan gevind word waar dit weggeraak het nie.

Die Liberiese minister van inligting sê daar bestaan geen rekord dat die houers geld ontvang is nie, en die minister van finansies reken die geld is nie behoorlik verklaar by een of ander punt nie, en is nie gesteel nie.