Die ooreenkoms met Noord-Korea

Die kommunistiese leier van Noord-Korea, Kim Jong-Un, het ’n ooreenkoms bereik met die Suid-Koreaanse president, Moon Jae-in, tydens hul vergadering in die kommuniste se hoofstad, Pyongyang.

President Moon se drie dae besoek aan Noord-Korea is sy eerste geleentheid om met die leier van die land op sy eie werf te vergader met die bedoeling om ’n ooreenkoms te bereik oor kernwapen vervaardiging.

Die twee leiers het ook die moontlikheid van ’n opvolg vergadering tussen president Trump en Kim Jong-Un bespreek.

Die twee leiers het ondermeer oor die volgende sake ooreengekom:

Beide verklaar in ’n gesamentlike verklaring dat hulle daarna streef om die skiereiland te bestuur na ’n kernwapen vrye gebied.

’n Buffer gebied sal gevestig word deur te begin mt die verwydering van landmyne en wagposte wat bestaan sedert 1953 in die dorpie Panmunjom.

Kim het ook onderneem om binnekort ’n eerste besoek aan Suid-Korea te bring en sal glo die belangrikste missiel fasiliteite in die teenwoordigheid van buitelandse waarnemers aftakel.

Kim Jong-Un sê hy sal sy kernwapen aanleg ook aftakel indien die VSA dieselfde stappe in sy land neem.

Waarnemers sê dit is ’n bewys dat die kommuniste geen plan het om van sy kernwapens ontslae te raak nie aangesien daar geen moontlikheid bestaan dat die VSA sal afsien van sy kernwapens nie.

Die eis wat Kim stel beteken dat die kommunistiese Sjina en  Rusland die sterkste kernwapen moondhede van die wêreld sal wees, word gesê.