Deur my lens

Terwyl radiostasies nog die lied, “Dis my land” speel, wonder ek hoeveel mense weet die lied is destyds saamgeflans om kiesers te beïnvloed om “ja” te stem.

Maar dit is nie waaroor ek ’n stuiwer in die skatkis wil gooi nie. Ek wil iets kwytraak oor diefstal in die land – en nie sommer net die stelery van gewere en bottels wyn nie, maar oor ander stelery sodat lesers kan deel in my siening…

Mugabe Nommer Twee is van voorneme om grond te steel wat wettig deur landbouers bekom is, en hy seker ongrondwetlik wil optree soos Zimbabwe se Mugabe gedoen het.

Na die duiwel met die ekonomie wat gaan tuimel, en na die satan met landbouers wat reken hulle word besteel…

Dit is veel erger as die vent wat die belastingbetaler se geld gesteel het om vir hom ’n luukse aftree plekkie op te rig met swembad en al wat daarmee saamgaan…

Ek wil nie eers praat oor die Gupta-gemors nie, dis om van naar te word.

Wat moet bygevoeg word oor die talle munisipaliteite wat bykans bankrot is oor diewe se gulsige handelinge deur kontrakte op te stel en betalings te maak, terwyl niks gedoen word volgens die ooreenkoms nie. (Durban se Casspir is maar een geval) .

Dan is daar die diewe wat vee en oeste steel op plase, en dan so arrogant is om op die dorp se sypaadjie te staan om dit te verkoop en ander steel renoster horings, ander steel motors en ander steel enige iets waarop hulle die hand kan lê.

Die land is nie net ’n misdaad Mekka nie, dit behoort ’n naamsverandering te ondergaan soos Die Diewe Republiek.

Mugabe het ’n keer verwys na die Australiese inwoners as ’n klomp tronkvoëls van Brittanje wat daar afgegooi is waar hulle nou woon.

Wat sal gedoen kan word met die honderde, of is dit duisende, of dalk miljoene diewe van die Diewe Republiek?

Dit sal darem heerlik wees as die diewe almal iewers afgelaai kon word, dan kan die Diewe Republiek weer ’n ander naam kry en ons kan weer met oop deure en vensters, sonder diefwering ons nagrus geniet.

Klein Knapie