Deur my lens

Ek het twee sake wat, soos ’n lastige klippie in die skoen, bly pla, en waarskynlik ook mede lesers van Die Vryburger kan irriteer.

Die President

Die eerste is Mugabe Nommer Twee se nuwe plan om die ekonomie reg te ruk, maar wat deur gesaghebbendes beskou word as ’n swak plan wat geen verskil aan die ekonomiese chaos van Suid-Afrika gaan maak nie.

Indien president Ramaphosa reken hy kan die land se ekonomie verbeter deur toilette te bou, dan is daar ’n skroef los wat vir my lyk na nog ’n manier om R400 miljard te bekom uit die buiteland sodat niks hoef te verander in die land van diewe, korruptes en rowers nie.

Klankkoerant se FM

Dan dis daar nog ’n saak – hierdie keer die groot leuen van die “Klankkoerant FM” ouens wat aanspraak maak op ’n bestaan van 25 jaar.

Dit is ’n growwe mistasting van die waarheid.

Die multikulturele vakbond en sy handlangers in ’n burgerregte organisasie het sowat vyf jaar gelede die radiostasie, Radio Pretoria, gekaap met ’n slinkse slenter, en toe omgebou na ’n derderangse uitsaaier wat die Boere-Afrikaner se ideale verwerp het.

Vandag is daar kwalik ’n greintjie van Radio Pretoria waar te neem by die sender wat dikwels die swakste soort musiek speel, wat swak omroepers het wat in sekere gevalle taalverkragters is en wat geen behoorlike kundigheid beskik oor die uitsaaiwese nie.

Pretoria FM is vyf jaar oud, nie 25 jaar nie. Hulle roem op iets waaraan hulle nooit deel gehad het nie – sies!

Klein Knapie