Brasilië se voorloper oorleef aangeval

Die nasionalistiese Jair Bolsonaro wat tans die voorloper is in die presidentsverkiesing van Brasilië, is die naweek tydens sy verkiesingsveldtog met ’n mes aangeval en ernstig beseer.

Die energieke kandidaat het die aanval oorleef, maar weens die erns van die wonde, moes hy ’n operasie ondergaan en verkeer in die intensiewe sorgeenheid van ’n hospitaal.

Die voorval wat in die suide van Brasilië, in die stad Juiz de For a, plaasgevind het, is op video vasgelê en op die sosiale netwerke versprei en toon hoe hy stadig tussen die groot skare mense beweeg het.

Ondersteuners van Jair Bolsonaro was hewig ontsteld oor die voorval en duisende het gereageer en gesê die skuldige verdien die doodstraf.

Verskeie video opnames is gemaak wat ondermeer ook die aanval op die kandidaat duidelik wys, en is ook op die internet vertoon.

Later het ’n geneesheer bevestig dat ’n operasie suksesvol uitgevoer is en dat die pasiënt se toestand gestabiliseer is, maar nog etlike dae in die hoësorgeenheid sal wees.

’n Polisie woordvoerder Flavio Santiago het bevestig dat die aanvaller in hegtenis geneem is en geïdentifiseer is as Adelio Bispo de Oliveira, en bygevoeg dat hy voor arrestasie deur ondersteuners van die kandidaat gemoker is.