Wet op gronddiefstal eers teruggetrek

Die Komitee van Publieke Werke het besluit om die voorgestelde wet op grond onteiening terug te trek, maar slegs totdat die gesamentlike Konstitusionele Hersieningskomitee hul werk voltooi het rondom gronddiefstal.

Hierdie is dus maar net ‘n vertragings taktiek en ‘n nuwe wet met meer “tande” sal voorgelê word wat sal toesien dat die grondkwessie vinniger geskied.

Die VF Plus het ook kennis geneem dat die wet onttrek is en glo die rede daarvoor is om die proses van onteiening sonder vergoeding te bespoedig deurdat die proses vereis dat wanneer die Grondwet gewysig word, die wysiging deur gewone wetgewing moet geskied.

“Dit is dus duidelik dat die ANC hom nie van stryk laat bring deur berade en voorstelle van die landbousektor oor hoe om grondhervorming te versnel nie, en dat hy eensydig voortgaan om die Grondwet te wysig om voorsiening te maak vir onteiening sonder vergoeding,” sê dr. Pieter Groenewald (foto).

Hy sê die ANC mislei die publiek en landbou-organisasies deur voor te gee dat hy planne en voorstelle om grondhervorming te versnel verwelkom, en sodoende wek hy die indruk dat hy nie sal voortgaan met onteiening sonder vergoeding nie.

“Hierdie onttrekking deur die portefeuljekomitee van die wetsontwerp wat al in 2015 opgestel is, dien as duidelike bewys dat die ANC die Grondwet sal wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak en om Suid-Afrika sodoende op ʼn vernietigingspad te plaas wat sal eindig in ‘n Zimbabwe-situasie.”