VF plakkate verskeur by Tukkies

Die anti-Afrikanersentiment by die voormalige Voortrekker Universiteit, Tukkies, het die afgelope week weer sterk geblyk toe die ANC en EFF skynbaar kragte saamgesnoer het om VF Plus se plakkate vir die studenteraadsverkiesing op te skeur.

Die VF Plus-jeug sê in reaksie dat hy ten sterkste die EFF en ANC se radikale en onverdraagsame optrede afkeur.

Die VF Plus se SR-presidensiële kandidaat, mnr. Daniël Viljoen, was die teiken van openlike rassistiese uitsprake tydens sy presidensiële kandidaat-toespraak.

Dit is ook die tweede keer dat die OVK mnr. Viljoen se verkiesingsplakkate moet vervang nadat vandale dit opgeskeur het.

Nog meer kommerwekkend is dat die UP hierdie klein groepe EFF- en ANC-studente toelaat om die atmosfeer op die kampus te ontwrig en te vergiftig. Dit wil voorkom asof die UP nie net bereid is om hierdie gedrag te aanvaar nie, maar om ook onmiddellik toe te gee aan die ontwrigters se eise.

Dit is juis hierdie toegewings wat ‘n valse gevoel van vrede op die  kampus skep wat  tot die vernietiging van studente-kultuur, verdeeldheid en die opstel van groepe teen mekaar lei, sê VF Plus Jeug.

“Die VF Plus sal nie toegee aan die intimidasie of die rassehaat van hierdie radikale groepe op die kampus nie. Die party verteenwoordig die konserwatiewe Christelike minderheid op die kampus en is daar om aan minderhede ‘n stem te gee teen hierdie vernietiging van morele- en gemeenskapswaardes.”