Venezuela krisis vererger

Duisende inwoners van die ekonomies geknelde Venezuela is besig om landuit te vlug weens die ernstige tekort aan voedsel en ander lewensmiddele.

Alhoewel die mense nie toegelaat word om na buurlande te vlug nie weens die sluiting van grensposte, poog duisende mense daagliks om oor die grens te vlug.

Venezuela verkeer tans in sy ernstigste ekonomiese en politieke krisis sedert die olieprys vier jaar gelede so skerp gedaal het.

Onbevestigde berigte lui dat meer as ’n honderdduisend mense reeds op die vlug geslaan het weens die ernstige tekort aan lewensmiddele,

Die toestand is so erg dat die Internasionale Monitêre Fonds (IMF) se jongste beraming is dat Venezuela se inflasiekoers teen die einde van 2018 sowat een miljoen persent sal beloop.

Intussen is ook verneem dat die omstrede president Nicolas Maduro die minimum loon verhoog het met 3,5% terwyl die inflasiekoers die hoogste ter wêreld is.

In ’n poging om die geldeenheid te red, is dit nou ook gekoppel aan hulle eie virtuele geldeenheid wat in Februarie tot stand gebring is in opdrag van die regering.