Turkye verkla VSA by WHO

Woordvoerders in die Turkse hoofstad Ankara het bevestig dat Turkye ’n klagte ingedien het by die Wêreld Handels Organisasie (WHO) oor die swaar invoerheffing op staal en aluminium .

In ’n brief aan die WHO wat Turkye Maandag gestuur het, argumenteer hulle dat Washington die vrye handel se reëls verbreek deur ’n 25% invoerheffing op staal en ’n 10% op alluminium te plaas sedert Junie vanjaar.

Die heffing is ingestel teen Turkye nadat die land geweier het om te voldoen aan die VSA se versoek om die Amerikaanse geestelike, Andrew Brunson, vry te laat wat in aanhouding is weens beweerde betrokkenheid by die mislukte staatsgreep.

Intussen het president Trump gewaarsku dat die invoerheffing verdubbel gaan word tot 50% op staal en 20% op alluminium indien die Turkse regering nie gehoor gee aan die versoek nie.

Die optrede van Amerika het die geldwaarde van die Turkse lira laat tuimel en die aandelebeurs het drastiese dalings getoon terwyl buitelandse beleggers besluit het om weg te bly uit Turkye solank die VSA se sanksies toegepas word.

Politieke waarnemers sê dit is reeds duidelik dat Turkye die finansiële geveg met die VSA gaan verloor en nog harde bene sal kou terwyl Brunson in huisarres bly.

Foto – President Erdogan