Trump laat SA linkses bontspring

Die Suid-Afrikaanse regering en ander linkses is duidelik onkant betrap deur Amerika se president Donald Trump se aankondiging dat hy sy minister van buitelandse sake gevra het om ondersoek in te stel na grondvergrype en plaasmoorde in Suid-Afrika.

Die ANC-bewind se minister van buitelandse sake het dadelik aangekondig dat Suid-Afrika sy eie sake kan oplos deur onderlinge dialoog.

Linkse joernaliste het probeer munt slaan uit ‘n enkele verkeerde stukkie inligting van Trump, maar kon nie daarmee slaag nie.

Agri SA het onmiddellik vir Trump aangeval en gesê hy blaas rassespanning aan.

‘n Verteenwoordiger van TLU SA het gesê hulle verwelkom Trump se ondersoek aangesien TLU SA al jare lank ‘n internasionale veldtog voer teen plaasmoorde, en dat hulle ook die regering se beoogde diefstal van grond aan die internasionale groot klok hang.

Die VF Plus het gesê hy het reeds ʼn versoek tot die Amerikaanse ambassade in Suid-Afrika gerig om met sy saakgelastigde ‘n gesprek te voer oor die situasie in Suid-Afrika, en in besonder die sake wat Amerika se president aangeroer het.

Net na Trump se aankondiging het die rand verswak omdat daar vrese is dat Trump moontlik sanksies kan instel teen Suid-Afrika.

Die ekonoom, Dawie Roodt, het gewaarsku dat Trump se aksie nie ligtelik opgeneem moet word nie en dat hy in staat is om die Suid-Afrikaanse ekonomie lelik seer te maak.