TLU SA verheug oor Trump ondersoek

TLU SA glo dat sy jarelange internasionale veldtog om veral plaasmoorde onder die wêreld se aandag te bring, resultate begin oplewer, en daarom is hy verheug oor Amerika se president Donald Trump se aankondiging dat hy ‘n ondersoek na plaasmoorde gelas het, en ook na die moontlikheid van grondonteiening.

“TLU SA was al verskeie kere in die buiteland oor die sake, en sal dit weer doen as die geleentheid hom voordoen,” sê TLU SA se president, mnr. Louis Meintjes. “Ons het reeds binnelands alles probeer om die regering te beweeg om plaasmoorde en die beveiliging van boere te prioretiseer. Eweso het ons reeds alle gevare uitgewys wat met die land se ekonomie gaan gebeur as produktiewe grond onteien gaan word en die pad volg van die grondhervorming tot dusver, waar meer as 95% van voormalig produktiewe grond onproduktief geword het en waar plase verval het.

“Sou die regering bowendien voortgaan om politieke aksies bo ekonomies regverdigbare aksies te stel, loop hy die gevaar dat Suid-Afrika homself ook uit die Agoa ooreenkoms kan stel, met verdere uiters negatiewe gevolge vir die ekonomie.

“Die regering wil nie na ons motiverings luister nie, en daarom verwelkom ons enige buitelandse ondersteuning in hierdie aangeleenthede, en distansieer ons onsself van uitsprake wat beledigend is teenoor pres. Trump,” sê mnr. Meintjes.