Theresa May steun die ANC teen Afrikaners

Die Britse eerste minister, mev. Theresa May, wat tans op besoek aan Suid-Afrika is, het, nadat sy deur ’n verslaggewer gekonfronteer was, bevestig dat sy die ANC en Cyril Ramaphosa se beleid oor gronddiefstal ondersteun.

Die aanvanklike verwagting was dat mev. May haar nie oor die ANC se grondgryp-beleid sou uitspreek nie. In teenstelling daarmee dat vooraanstaande wêreldlande soos Australië en die VSA (en mnr Donald Trump by name) hulle kommer oor die ANC-beleid uitspreek, het die Britse eerste minister haar nou aan die kant van Ramaphosa en die ANC geskaar. Haar voorwaarde is dat dit “wettig” moet geskied. Mev. May het nie uitgespel hoe jy diefstal wettig nie.

Mnr. Louis van der Schyff, hoofsekretaris van die HNP (foto), sê hierdie uitspraak van die Britse eerste minister bevestig nie net Brittanje se steun aan die kommunistiese ANC-regime nie, maar ook Brittanje se voortdurende vyandskap teenoor die Afrikanervolk.

“Ons moet nie vergeet nie dat toe die ANC en die Kommunistiese Party deur die destydse Afrikanerregering verban was om wet en orde in Suid-Afrika te handhaaf, die ANC se hoofkantoor in Londen gehuisves was. Die terroriste-aanslae van die ANC was vanuit daardie kantoor georganiseer.

“Uit die feit dat mev. May nou die diefstal van Blankes se eiendom goedkeur, kan die Witman en die Afrikaner net een afleiding maak: Die vyandskap van Brittanje teenoor die Afrikanervolk is nie op 31 Mei 1902 met die Vrede van Vereeniging beëindig nie. Dit duur voort in die gedaante van Cyril Ramaphosa se ANC,” sê mnr. Van der Schyff.