Russe betoog teen aftree-ouderdom

Die besluit van die Poetin regering om die aftree ouderdom na 65 jaar te verhoog, het die Kommunistiese Party, wat ook die grootste opposisieparty is, na die strate van Moskou gedryf.

Die leier van die Kommunistiese Party sê die regering wil met die nuwe maatreël, die pensioengeld in die mense se doodskiste inbetaal.

Groot onrus heers tans in Rusland oor die voorgenome wysiging, en die afgelope naweek het meer as 10,000 ondersteuners van die Kommunistiese Party in Moskou geprotesteer wat ook deur sommige vakbonde gesteun is.

Onbevestigde berigte lui dat opposisiepartye, groepe en vakbonde ook protes optogte in die groot stede regoor Rusland gehou het om beswaar te maak, maar die Poetin-regering het geensins daarop gereageer nie.

Tot hede is die aftree ouderdom op 60 jaar gestel, en vroue tree af op 55 jaar, maar die nuwe aftree ouderdom tree glo eers in 2034 amptelik in werking..

Vroue se aftree ouderdom sal van 55 verhoog na 63 jaar, terwyl statistieke toon dat mans gemiddeld 67 jaar oud word, en vroue 77 jaar.