Rusland bou meer oorlogskepe

President Vladimir Poetin van Rusland het die afgelope naweek bekend gemaak dat ’n nuwe vloot van 26 oorlogskepe ontplooi gaan word.

Die groter oorlogskepe sal almal toegerus word met Kalib-kruisermissiele en sal seevaardig wees teen die einde van vanjaar.

President Poetin het die opspraakwekkende nuus voor ’n uitgelese gehoor in St. Petersburg gebring in ’n uur lange toespraak om die Russiese Vloot Dag te vier.

Militêre deskundiges meen dit maak Rusland een van die mees gedugte lande op see, en met die tweede vloot kan die Russe groot gebiede ter see begin beheer.

Poetin het hulde gebring aan die mense wat onverpoos werk aan die uitbouing van die land se oorlogskepe en sê die opgradering van die vloot dra by tot groter sekuriteit vir die land en sy mense.

Die president sê agt van die nuwe skepe is reeds te water gelaat en besig om oefeninge uit te voer waarvan vier duikbote en die ander logistiese vaartuie is.